Thursday, December 30, 2010

2011 - Oordenking vir die Nuwe Jaar.

Gedurende 2011 - bou met wysheid.

Weet nie van jou nie, maar ek vind dit moeilik om van ’n gek en ’n dwaas te hou. Veral die soort wat dink hulle weet alles van die hele ding af, terwyl hulle niks van enige iets weet nie. “Gekke sekerheid” is meer as frustrerend, dis ook gevaarlik. Jesus het gesê dat mense wat nie na Hom luister nie, is soos ’n dwaas wat huise sonder fondamente bou.

Matteus 7:24-27: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Wie sal waag om te sê ons lewe nie in tye waarin dwase wat hoë risiko aannames maak, groot skade kan aanrig nie? Wie wil 2011 onverstandig aanpak en toelaat dat sy lewe deur die uitdagings en versoekings wat voorlê weg gewas word?

Die probleem met dwaasheid is dat onverstandiges vas glo hulle is reg en dat dit selfs baie slim, akademies en “wetenskaplik” kan voorkom. In Jesus se gelykenis bou twee manne 2 huise wat op die oog af baie dieselfde lyk. Al twee wil graag huise hê waarin hulle gelukkig en veilig met hulle gesinne kan woon. Al twee huise lyk na effektiewe skuilings met deure, vensters, ’n uitsig en verskillende geriewe. ’n Verbyganger sal moeilik kan kies tussen die twee.

Maar daar is tog baie belangrike verskille tussen die twee mans en tussen hulle huise. Die belangrikste is dat die een man verstandig en die ander een ’n gek, of dan, ’n dwaas, is. Dit veroorsaak die belangrikste verskil tussen die huise wat hulle bou – die verstandige man bou sy huis op ’n fondament, maar die dwaas oorweeg nie die risiko’s en uitdagings wat sy huis in die toekoms sal moet trotseer nie. Hy sien net die opwinding van die oomblik raak. Hy wil so gou moontlik intrek. Hy oorweeg nie enige risiko’s nie. Hy maak nie seker dat sy huis die toets van die tyd sal deurstaan nie.

Toe die storm kom, vernietig dit die dwaas se huis onmiddellik. Die wyse, verstandige man se huis het bly staan.

Teveel Christene benader sake van geloof soos die dwase bouer. Hulle hou van vinnige antwoorde, spoedige resultate en kits satisfaksie. In plaas daarvan om hul geloof op te bou deur daagliks aan ’n verhouding met God te werk en goeie gewoontes kweek soos gereelde aanbidding en erediens bywoning, Bybel lees en gebed, volstaan hulle met skietgebedjies as die storm opkom.
Die verstandige man doen die teenoorgestelde. Hy wil hê sy huis moet altyd bly staan. Hy bou met die oog op die toekoms. Hy begeer ’n huis wat storms kan oorleef. Hy oorweeg die uitkoms van allerlei toekomstige scenario’s en daarom besluit hy om sy huis op ’n stewige fondament staan te maak.

Jesus herinner dat die belangrikste en mees essensiële realiteit vir ’n Christen sy of haar fondament is. Moenie soos die dwaas dink, dat omdat jy nie die fondament kan sien nie, maak dit nie saak nie. Die dwaas bou sonder berekenings en ondeurdag en stel net belang in wat sigbaar en ervaarbaar is. Die struktuur wat hy bou, vergaan.

Toe ons gemeente ons kapel gebou het, het uitstaande wetenskaplikes baie huiswerk gedoen om vir ons – of liewer ons ingenieurs en bouers - in besonderhede raad te gee. Jy sien, ons stukkie grond het hoë dolomiet risiko’s met moontlike destruktiewe eienskappe. Ons moes die fondament regkry om ’n struktuur te kon oprig wat lank veilig sal staan. Net die regte fondament, met net die regte beskerming vir daardie fondament, was die sleutel tot ’n suksesvolle bou projek.
Dwase kan nie op hoë risiko grond bou nie.


As dit by geloofsake en spiritualiteit en ons verhouding met Christus kom en as dit daarby kom om ’n veilige lewe te bou en die toekoms van ’n gesin of ’n gemeente of ’n kerk te verseker, is daar nie kortpaaie nie. Ons moet eenvoudig doodseker maak dat ons op die regte fondament bou.

Paulus sê daar is net een fondament waarop ons kan bou en dit is Christus Jesus. Hy skryf in 1 Korintiërs 3: 10 en 11: “Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.”

Om op enige iets anders as Christus te bou, is om speletjies met rampspoed te speel. As die storms kom, sal alles wat jy gebou het weg gewas word. Daar is net een Rots en dit is Christus. Jesus het gesê die verstandige man handel volgens sy woorde. Net ’n gek en ’n dwaas ignoreer wat Christus gesê het as dit by die veiligheid van sy lewenshuis kom.

Uiterlik lyk die verstandige en dwase man se geloofslewe baie dieselfde. Jy vind albei in die erediens – hoewel die dwaas dikwels net die eerste paar maande van die jaar kom. Dit lyk of albei die samesyn van die gelowiges geniet. Hulle luister na dieselfde boodskap. Albei ondersteun die instandhouding van die bediening van Woord en Sakrament. Dis moeilik om hulle uitmekaar te ken, as jy net uiterlike dinge in ag neem.

Daarom moet ons aan die begin van ’n nuwe jaar goed en deeglik na ons harte kyk. Wat sien jy daar? ’n Verstandige man, of ’n dwase gek? Moenie te vinnig antwoord nie, want hulle lyk op die oog af teveel na mekaar.

Kyk weer na jou hart en voornemens en toets dit aan God-geïnspireerde woorde:
(Mt 7:24) Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.

(Mt 7:26) En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het.

(Mt 7:21) “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

Die basiese waarheid is dat ’n verstandige mens na Jesus luister en aan Hom gehoorsaam is. ’n Dwaas maak soos hy wil, wat Jesus ook al sê.

Dis belangrik om gehoorsaam te wil wees. Om te wil sien dat wat ek glo in daaglikse liefde vir God en my naaste realiseer. Sien jy in jou hart die begeerte om te aanbid en om te leer en om te bly by wat Jesus verwag?

Sien jy in jou lewe die vrug en gawes van die Gees? Sien jy opgewondenheid daaroor om te dien en jou liefde vir God te wys?
Teveel mense leef net vir die oomblik, sonder om na die gevolge vir die toekoms ondersoek te doen. Baie weier om ewige gevolge te oorweeg. Dwase eet en drink, hou partytjie en werk en versamel aardse goed sonder om rekening te hou met hulle weerbaarheid wanneer die storm kom en of alles wat hulle gedoen het, sal bly staan voor die beoordeling van die Troon van God.

’n Verstandige mens lewe in die hier en nou, maar is paraat vir die toekoms. Hy oorweeg die uitdagings wat die toekoms inhou. Hy weet dat hy sonder God geen storm kan trotseer nie. Hy oorweeg die ewige gevolge van sy besluite. Hy bou op die fondament Christus en handel volgens die woorde van Jesus.

Terug na die gelykenis. Daar is verstandige en dwase bouers in die kerk van Jesus. Verstandiges bou op die Rots. Hulle sal veilig wees.
Maar daar is ook dwase, onverstandige, onkundige gekkerny wanneer dit by geloofsake kom.

Mag Christus, sy Woord en sy Kerk jou help om ’n verstandige bouer in 2011 te wees.
En mag God ons elke tree wat ons op op sy padgee, ryklik seën
.

No comments: